thePLAN

  The church with a difference makes an intentional difference! 

More
  • Home
  • Core Content
  • News
  • Articles
  • Products
  • Associates:
  • Blog
  • Photo Albums
  • Calendar

Categories

  • Sermons: Building Blocks (28)
  • Contributions: Building Blocks (7)

Blog

« Back to Blog « Older Entry | Newer Entry »

Gemeenskappe is vertoonvensters vir God se Koninkryk PB2.3

Posted by thePLAN diePLAN on May 29, 2017 at 2:00 PM
   Ds TC du Toit

BYBELSE BEGINSEL VAN DIEPLAN – BOUBLOK

• 2.3 Getransformeerde (veranderde) gemeenskappe is vertoonvensters vir God se Koninkryk.


MATERIAAL UIT ONS IS DIEPLAN HANDBOEK


• Deel 2.6 Die Kerk – b.l 25-29, 35-36

• Deel 3.12 Die Nuwe Testament – bl. 51

• Deel 5.21 Koninkryksperspektief – bl. 126-130


ONS IS DIEPLAN – 9 WEKE VAN TRANSFORMASIE – BYBELSTUDIEBOEK


• Week 2 – Dag 7 Wat soek ek waar? – bl. 20

• Week 2 – Dag 8 Ons het dit nie uitgedink nie – bl. 22-24


1. SKRIFGEDEELTE


Matteus 5 : 1 – 16 met 5 : 13 – 16 as teks.


Daar sou waarskynlik ander en selfs beter Skrifgedeeltes gevind kon word om die bogenoemde teologiese boublok van diePLAN te belig. Die keuse vir hierdie betrokke teks berus gewoon op die feit dat die skrywer self aangegryp is deur die beslistheid waarmee Jesus die dissipels beskryf as sout en lig: “Julle is …”. Dit is vir Christus ononderhandelbaar. Die dissipels en kerk is per definisie ‘sout’ en ‘lig’ vir die wêreld. Anders is dit nie die kerk waarmee jy te doen het nie.



2. Eksegeties


Die groter konteks van die gekose teksgedeelte is hoofstuk 5:1 tot 7:29, dus Jesus se hele bergpreek. Vir die doeleindes van hierdie preek baken ons dit egter af tot hoofstuk 5:1 tot 5:16. Die meeste kommentare beklemtoon trouens ook die feit dat daar ʼn noue band tussen ons teks-perikoop en die “Geseënd is”- uitsprake van verse 3 tot 11 bestaan.


Vir ʼn vers-vir-vers verklaring van Mat. 5:1 tot 5:16 kan die kommentare geraadpleeg word. Wat hier volg is net enkele eksegeties opmerkings.


Wanneer ons vra na die identiteit van diegene wat deur Jesus in Mat. 5:13-16 as sout en lig bestempel word, blyk dit uit die Griekse woord wat in hoofstuk 5:1 gebruik word en met dissipels in die NAV vertaal word, letterlik leerders te wees. Dit skep die indruk dat die persone wat hier aangespreek word nie noodwendig die geroepe 12 dissipels van Jesus was nie, maar almal wat Hom as leermeester erken en gevolg het. Sommige van hulle het selfs later die rug op Hom gekeer (sien Joh. 6:66). Uit Lukas 6 blyk egter die teendeel, naamlik dat dit juis die geroepe 12 dissipels is tot wie Jesus Hom wend in hierdie bergpreek, soos dit allerweë bekend staan.


Alhoewel uitsluitsel oor die hoorders nie noodwendig verkry kan word nie, is dit tog duidelik genoeg dat diegene met wie Jesus praat, deur Hom beskou word as mense van die koninkryk van God, of soos Matteus verkies om dit te noem: die koninkryk van die hemele. Die eerste sowel as die laaste geseënd-wees-uitspraak belowe dieselfde beloning, naamlik dat dit mense is aan wie die koninkryk van die hemel behoort. Dit sou dus moeilik wees om dit so te verstaan asof Jesus twee teikengroepe in gedagte gehad het.


Ons sou kon sê dat Jesus in die geseënd-wees-uitsprake die hart van die koninkryksmens beskryf en deur die metafore van sout en lig, hul respons op die wêreld waarbinne hulle leef. Dit is juis mense wat só deur God aangeraak is dat hulle, in teenstelling met die wêreld, hul afhanklikheid van God besef, treur oor die ellende in die wêreld, sagmoedig is, geregtigheid najaag, barmhartig en rein van hart en vredemakers is, vervolg en beledig word ter wille van Christus. Juis dit maak dat hulle radikaal ánders is en uitstaan in hul omgewing waarbinne hul bevind.


Daar moet gewaak word om té veel aandag te gee aan die verskeidenheid van eienskappe van sout en lig en die fokus moet eerder val op hul funksie, naamlik dat dit ʼn kragtige uitwerking het op hul onmiddelike omgewing. Dit is die radikale andersheid as hul omgewing wat maak dat hulle hul eienskappe kan beoefen. Selfs in die kleinste hoeveelheid impakteer sout of lig hul omgewing onmiskenbaar.



3. Hermeneuties



1. Dietrich Bonhoeffer in sy welbekende boek, The cost of Discipleship, noem na aanleiding van hierdie Skrifgedeelte die kerk van Christus “The Visible Community”. Hy sê onder andere die volgende oor die dissipels (kerk) as sigbare gemeenskap:


• Deur hul eksklusiewe verbondenheid aan Jesus, moet die dissipels nie net hemelsgerig wees nie, maar ook aardsgerig. Hulle taak lê op aarde. Nie Hy nie, maar húlle is die sout wat die verskil moet maak.


• Dit is nie vir die dissipels om te besluit of hulle die sout en lig wíl wees nie. Hulle is sout gemaak deur die roeping wat hulle van Hom ontvang het. Hulle het nie die sout nie, maar hulle is dit. Dit raak hul hele wese.


• Deur hul sout-karakter prys te gee, deur laf te word, verloën hul nie net hul roeping nie, maar gee hulle daardeur hul identiteit prys. Dan is hulle van geen waarde en is daar geen sin in hul dissipelskap.


• Die dissipel-gemeenskap word ook verklaar as die lig vir die wêreld. Weereens het hulle nie die lig nie, maar is hulle die lig. Hulle is alreeds die lig kragtens hul roeping deur Christus. Indien hulle iets anders as lig is, is hulle nie geroep nie. Dit sou absurd wees indien hulle probeer om die lig te wees. Dit is nie iets soos prediking wat aan hulle gegee word nie, maar dit is deel van hulle wese, hulle kan nie anders as lig wees nie! Dit is nie ʼn keuse wat hulle kan uitoefen nie. Hulle kan slegs wees wat hulle is, anders behoort hulle nie aan Christus nie.


• Alhoewel die werking van sout in ʼn sekere sin onsigbaar is, is dit nogtans onmiskenbaar. Maar, hulle is nie net sout nie, maar ook lig. Hul dissipelskap laat hulle sigbaar bo die wêreld uit styg, soos “ʼn Stad wat op ʼn berg lê”. Die dissipels is ʼn ‘sigbare gemeenskap’.


• Dissipel-wees en sout en lig wees is ondenkbaar om van mekaar te skei. Om Bonheuffer direk aan te haal: “Flight into the invisible is a denial of the call. A community of Jesus which seeks to hide itself has ceased to follow him.” Wanneer die kerk met die wêreld konformeer “the hallmark of the Church becomes justitia civiles instead of extraordinary visibility”.


• Wat is hierdie unieke lig wat dissipels nie anders kan as om uit te straal nie? Dit is om nié hulleself sigbaar te maak nie, maar Christus! Die wêreld moet nie die dissipels raaksien nie, maar hulle “goeie werke”. Dié goeie werke wat Christus Self binne-in hulle moontlik gemaak het deur sy kruis. Bonheuffer: “The cross is the strange light which alone illuminates these good works of the disciples.” Die dissipels is maar net mense wat in die skaduwee van die kruis staan. Hulle is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, wat treur, sagmoedig is en honger en dors na wat reg is, wat barmhartig, rein van hart en vredemakers is, wat vervolg en beledig word. Dit is wanneer die wêreld sien dat die dissipels iets van die gebrokenheid/ broosheid van hul Here in sy lyding uitstraal, dat die wêreld nie aan die dissipels self die eer sal gee nie, maar aan God! “It is by seeing the cross and the community beneath it that men come to believe in God. But that is the light of the Resurrection.”


2. Uit die Ons is die Plan-handboek sou die volgende opmerkings van Hancke tersaaklik wees:


• “Die koninkryksperspektief benadruk dat die evangelie ʼn Christologiese sentrum het. Jesus die Messias is die Koning, want sonder die Koning is daar geen koninkryk nie!”


• “Sending is nie ʼn etiese opdrag nie, maar ʼn Persoon. Missionale betrokkenheid is daarom meer as gehoorsaamheid: Dit is die gevolg van ʼn ontmoeting met Jesus Christus. Dit is dissipelskap.”


• “Wanneer Jesus byvoorbeeld sy toehoorders uitdaag tot dissipelskap, is die diepste bedoeling daarmee dat hulle as volgelinge van die Koning sal leef. Deur hul lewens moet hulle sy koningskap erken en demonstreer. Dissipels is burgers van God se koninkryk.”


• “Die spesiale roeping en identiteit van die missionale gemeente kom tot uiting wanneer hulle optree as lig vir die heidene (sien Mat 5:14-16) en priesters vir die nasies (sien 1 Pet 2:9).”


• “Om van die gemeente se missionale betrokkenheid te praat sonder om na die koninkryk van God te verwys is ... ondenkbaar. ”


• “Die versoening wat God self bewerk het deur Jesus te stuur, het ʼn uitvoerende inhoud. Met reg sou ons kon sê die Plan is reeds uitgevoer. Maar, daar is ʼn ander element – die nuus van die Plan moet bekend gemaak word. ʼn Geheime Plan sal geen doel dien nie. Hierdie verantwoordelikheid en voorreg, soos Paulus dit noem, is aan die kerk gegee.”



4. HOMILETIES


4.1 Inleiding


As ʼn moontlike inleiding sou die prediker voor die Skriflesing kon illustreer dat die wesenskenmerke van sout en lig in die kontras lê wat dit met die direkte omgewing het. ʼn Stukkie brood sonder sout en een met sout sou aangebied kon word vir een van die dames in die gemeente om te proe, sonder om te sê dat die een soutloos is. Sy sou gevra kon word watter is een is die lekkerste en hoekom sy so dink. ʼn Uitdaging tot die vindingrykheid van die prediker sal daarin lê om ʼn soortgelyke illustrasie ten opsigte van die impak van lig in sy onmiddellike omgewing te doen.


4.2 Ontknoping en toepassing van teks


In ʼn eerste rondte sou die prediker kon aantoon hoe die koninkryk van God en dié van die wêreld volgens die Bybel in skrille kontras teenoor mekaar staan. Dikwels behels die koninkryk van God presies die teenoorgestelde as dié van die wêreld. Waar mense van die koninkryk van die wêreld hunker na en werk vir eie gewin en volgens eie wil, is dié wat deel is van die koninkryk van God mense wat hunker na die verheerliking van God en die welwese van hul naaste. Dit sal koninkryksmense dan ook doen juis ten koste van hulself, in teenstelling met die mense van die koninkryk van die wêreld. Die geseënd-wees-uitsprake sou hier as voorbeeld gebruik kon word om dié kontras te onderstreep. Byvoorbeeld: Waar mense van die koninkryk van God mense is wat dikwels vervolg word omdat hulle doen wat reg is, is dit dikwels die burgers van die koninkryk van die wêreld wat die vervolgers is, omdat hulle juis die onreg wat hulle teenoor ander pleeg wil verdoesel.


Voorts sou dit belangrik wees om aan te toon dat deur die eeue heen die kerk worstel om hierdie kontras ʼn sigbare werklikheid te maak. Dit is reeds in Bybelse tyd duidelik dat die volk van God in die Ou Testament, in plaas daarvan om afgesonderd te leef vir God, hulle sodanig geleef het dat die heidense volkere selfs verstom was oor die optrede van die Godsvolk – vergelyk Eseg. 36:16-38, 20-22. Ook in die Nuwe Testament sien ons dat eenvormigheid met die wêreld dikwels deel is van dit waarteen die apostels die eerste gemeentes ernstig vermaan (sien 1 Kor. 5:1-12). Die prediker sou uit die konteks van eie gemeente en selfs uit eie lewe kon aantoon hoe fel hierdie worstelstryd is.


Wat is dit wat ten grondslag daarvan lê dat gelowiges sukkel dat hul lewens in wesenlike kontras met die wêreld te staan? Volgens ons Skrifgedeelte het dit meer te doen met ʼn wees-funksie as met ’n doen-funksie, dus, dit het alles te doen met dissipelskap. Dissipelskap lê veel dieper as ’n nabootsing van dit wat Christus doen en hoe Hy geleef het. Die is nie mimiek nie. Dit het als te doen met ʼn eksistensiële verhouding met Christus. Dit is om sy koningsheerskappy van harte te erken en jouself daaraan te onderwerp. In Hancke se woorde: “Sending is nie ’n etiese opdrag nie, maar ’n Persoon. Missionale betrokkenheid is daarom meer as gehoorsaamheid: Dit is die gevolg van ʼn ontmoeting met Jesus Christus. Dit is dissipelskap.”



4.3 Slot


Dit sou sinvol wees om lidmate se skuldgevoelens in ag te neem en ruimte te laat vir belydenis van skuld, asook eie onvermoë om sout en lig te wees. ’n Appél sou op die gemeente geplaas kon word, nie om anders te probeer wees as die wêreld nie, maar om die koningskap van die Koning sodanig te erken, dat hul anderse lewe die natuurlike uitvloeisel daarvan sou wees.



5. Literatuur


Barnes, Albert (1798-1870). Albert Barnes’ Notes on the Bible. [eSword software] Bonhoeffer, Dietrich (1949). The cost of discipleship. p. 115-119. New York: Macmillan Publishing Co., inc.

Burger CW, Muller BA en Smit DJ (Redaksie) (1990). Riglyne vir prediking oor die bergrede. Woord teen die Lig, Bd II/5, p 109-113. Goodwood, Kaapstad. Nasionale Boekdrukkery.

Clarke, Adam (1715-1832). Adam Clarke’s Commentary on the Bible. [eSword software]

Hancke, Frans (2010). Ons is die Plan – Die geheim van verskilmakende gemeentes. Derde uitgawe. Kimberley: Swift Print.

Matthew, Henry (1662-1714). Matthew Henry’s Concise Commentary of the Whole Bible. [eSword software]



Categories: Sermons: Building Blocks

Post a Comment

Oops!

Oops, you forgot something.

Oops!

The words you entered did not match the given text. Please try again.

Already a member? Sign In

0 Comments

Loading...
Create your own free website today
Webs
Better Websites Made Simple Create your own free website today